Ontmoet die familie

Visie

Ons is DISSIPELS van Jesus.

Ons Waardes

Ek glo dat Jesus my nie net verlos het van die sonde nie, maar my ook roep om as volgeling gehoorsaam agter Hom aan te loop, sodat ander weer my voorbeeld kan volg, soos ek die voorbeeld van Christus volg. (1 Kor 11:1).

Lees meer

Missie

‘n Familie wat God se liefde aan mekaar en die wêreld bedien deur lief te hê soos Jesus liefhet.

Ons kry dit in Johannes 13:34 & 35: "Julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet sal almal weet dat julle dissipels van My is."

Logo

Die kleure wat gebruik word in die logo:

Geel simboliseer lig. As dissipels is ons die draers van die Lig. “Julle is die lig vir die wêreld” (Matt 5:14). En op ’n ander plek sê Jesus: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Joh 8:12). Geel is ook die kleur vir kommunikasie, die kleur van die joernalis. Dit is presies wie ons is – ons vertel die blye storie van Jesus se verlossing aan die wêreld. 

Oranje dui optimisme en spontaneïteit aan. Dit is die kleur wat ’n positiewe lewensuitkyk teken en is die kleur wat mens moet gebruik in moeilike tye. Daarom is dit so ’n gepaste kleur in ons logo, omdat ons juis bywoners en vreemdelinge hier op aarde is, maar wat deur God se lig bemoedig word.   Oranje dui dan aan dat ons as dissipels vol vreugde is, ongeag die omstandighede rondom ons.

Rooi is die kleur wat mense motiveer om dinge te dóén. Dit is ’n warm en positiewe kleur wat geassosieer word met die mens se wil om te oorleef. Rooi kan mens se eetlus stimuleer – wat dan ook die rede is waarom hierdie kleur dikwels in restaurante gebruik word. So wil ons ook mense honger en nuuskierig maak oor die evangelie. Maar ten diepste is rooi die kleur van die liefde. Ons is wie ons is, danksy Jesus wat sy liefde aan ons gedemonstreer het, toe Hy aan die kruis vir ons gesterf het (sy bloed). Die rooi in die logo vertel ook van die liefde van Jesus waarmee ons mekaar liefhet.

Wie is ons? Ons is ’n familie. Alhoewel ons nie ’n klein gemeente is waar almal mekaar se name ken nie, wil ons graag die gevoel van “tuis kom en tuis wees” skep. Ons wil graag mekaar ken en betrokke wees by mekaar se wel en wee. As familie weet ons ook dat ons ons mekaar nie sommer kan los nie; ons is aan mekaar gebind met bande van Jesus se liefde. Ons is immers bloed-familie van mekaar. ’n Familie is anders as ’n gesin.

Waar is ons? Hottentots-Holland. Ons gemeente is genoem na die Hottentots-Holland berge, wat ons gemeente omring.

Hoekom is ons hier? Dissipels van Jesus. Dissipels is meer as net volgelinge. Dissipels is mense wat na Jesus geroep is en wat terselfdertyd deur Hom gestuur word om Sy se werk voort te sit hier op aarde (Matt 28:19).