Disakloof kampterrein

Disakloof is ’n kampterrein in Bettiesbaai, tussen die berg en die see geleë. Hierdie terrein bied regtig die geleentheid om tot rus te kom en af te skakel van die lawaai en gejaag waarmee mense elke dag gekonfronteer word. Disakloof beskik oor akkommodasie in netjiese huisies, twee goed-toegeruste kombuise, twee sale, ruimte waar mense kan ontspan en vriendelike personeel wat die belange van die gebruikers van die kampterrein op hulle harte dra.

Hierdie kampterrein, wat tot vroeg in die 1990’s aan die Ring van Somerset-Wes behoort het - om ’n bekostigbare kampterrein vir ons kinders te bied – het tans ten doel om die Christengemeenskap van die Wes-Kaap te help om van jongmense toegeruste burgers van die land én van die Koninkryk van God te maak. Om in hierdie doel te slaag, wil Disakloof graag self kampe aanbied om leierskapsopleiding en geestelike toerusting aan jongmense te bied. Omdat daar in die Wes-Kaap baie jongmense is wat nie sulke geleenthede kan bekostig nie, wil Disakloof dit juis vir daardie leerlinge moontlik maak.Geld wat met die geloofsgelofte-offers ontvang word, sal uitsluitlik vir hierdie doel aangewend word.

Hoe kan jy deel raak van die bediening om jongmense te begelei tot toegeruste burgers van die land en van die Koninkryk van God?

• Voorbidding vir die bestuur en personeel van Disakloof Jeugkampterrein.

• As jy ’n passie het vir hierdie werk - raak self betrokke by die beplanning en aanbied van kampe.

• Maak ’n finansiële bydrae (gee ’n geloofsgelofte-offer) om sulke kampe vir so veel as moontlik jongmense moontlik te maak.

Vir meer besonderhede – kontak gerus vir Chris Lombard (083 408 3108), of lombard.c@mweb.co.za.