Liefde na buite

Heartlands baby sanctuary

Heartlands Baby Sanctuary is `n geregistreede “Plek van Veiligheid”. Ons doel is om elke baba en kind wat ingeneem word te help met die vorming van sy/haar toekoms, en bied ons hulle`n tweede kans in die lewe deur ons visie, “dit is elke kind se geboortereg om aan `n liefdevolle familie te behoort” te bereik.
Kinders word of herenig met hul ouers, in pleegsorg geplaas of aangeneem of in `n langtermyn fasiliteit soos `n kinderhuis geplaas. Heartlands bestaan uit 2 projekte.

A Residensiële korttermyn holistiese versorging vir 25 kinders van geboorte tot 6 jaar oud: kinders met ’n lewensbeperkte en lewensbedreigende siekte wat nie in die gemeenskap versorg kan word nie; kinders wat fisies en seksueel mishandel en / of verwaarloos is; kinders van ouers met dwelm en alkohol verslawing; pasgebore babas wat beskikbaar is vir aanneming; terugplasiing van kinders in die gemeenskap by hulle eie ouers, of in pleegsorg, of in langtermyn versorgingsfasiliteit.

B Selfonderhoudende projekte: Die tweedehandse “Chic Boutique”, koffiewinkel, boekwinkel en ’n organiese groentetuin dien as ’n finansiële hulpbron tot die uitgawes van die residensiële versorging van kinders.

Hoe kan jy die werk van Heartlands Baby Sanctuary ondersteun?
• Voorbidding vir die bestuur, personeel en kinders.
• Raak n vrywilliger by Heartlands. Heartlands maak gebruik van vrywillgers om kinders in ons sorg van individuele menslike warmte en onderskraging te bied.
• Maak ’n finansiële bydrae (gee ’n geloofsgelofte-offer).

 

 Kontakbesonderhede
Tel:      021 852 3527
E-pos: monica@heartlandsbaby.org
Vir meer besonderhede besoek gerus ons webtuiste op www.heartlandsbaby.org

Free to serve

“It’s not how much we give but how much love we put into giving” Mother Theresa (1910-1997). 

 

Free To Serve se bediening, onder leiding van Dr Johann en Elna Snyman, is gefokus op die sogenaamde 10/40 venster waar die oorgrote meerderheid van mense woon wat nog nie deur die evangelie van Jesus Christus bereik is nie. Hulle werk die afgelope ongeveer 27 jaar in Noord Indië en Indo China (Thailand, Myanmar, Laos, China). In Suid Afrika is ‘n kleiner bediening onder kinders in die landelike gemeenskap rondom Stellenbosch.

Hulle bedieningsmodel in Asië is om inheemse mense op te lei as pastors om gemeentes in hulle eie land te stig en te lei. Deel van die model is om pastors en gemeentes in die betrokke lande te help om selfvoorsienend te word. As deel van hierdie visie is ‘n aantal rubber plantasies aangekoop wat in 2020 begin het om in produksie te kom.

In Laos en Myanmar word ongeveer 70 kinders deur pastors in hulle eie huise versorg - om hulle te red van dwelms en prostitusie en om hulle te help om ‘n goeie opvoeding te kry.

U geloofsgelofteoffer word gebruik vir die algemene finansiële ondersteuning van pastors in India, Thailand, Myanmar, Laos en China insluitende die versorging van ongeveer 70 kinders in verskeie pastors se sorg in Laos en Myanmar.

www.freetoserve.co.za Facebook: Free To Serve

Kontakpersone:
Andre en Jackie du Toit : 021 852 2588, andre.jackiedutoit@gmail.com

Huis Andrew Murray

Huis Andrew Murray sorg daagliks vir ongeveer 144 sorgbehoewende kinders (ouderdom 3-18 jaar) wat wees gelaat is of deur die kinderhof uit ouerlike sorg verwyder is. Die kinderhuis bevorder vanuit 'n Christelike lewensbeskouing die volledige en gesonde ontwikkeling van die kinders op religieuse, opvoedkundige, fisiese, sosiale en psigiese terrein d.m.v multi-dissiplinêre dienste.

Daar is 12 wooneenhede waarin tot 12 kinders van verskillende ouderdomme versorg word deur ’n inwonende kinder-en jeugversorger.

Die staat se subsidie is onvoldoende om al die nodige dienste te voorsien en die bestuur is verplig om hulp vanuit die gemeenskap te soek. Ons gemeente aanvaar verantwoordelikheid vir Huis Jakaranda. Ons is dankbaar dat danksy die ruim ondersteuning en hulp van Hottentots-Holland se lidmate ons in 2021 die huis kon opknap deur dit nuut uit te verf, vir elke kamer nuwe duvet oortreksels, kussingslope, gordyne, bedmatjies, ens. te voorsien. Ons kon ook meubels en ‘n mat in die sitkamer plaas. Verder het ons die 12 seuns uitgeneem vir ‘n ete by die Spur asook vir al 144 kinders ‘n HAMburger dag reël. Ons is veral dankaar vir die Gemeente se ruim ondersteuning van die skoendoosprojek waar ons vir elke kind in die inrigting ’n kers-skoendoos kon gee.

Daar is egter baie behoeftes en ondersteuning deur Geloofgelofte-offers kan in die gemeente se rekening inbetaal word met verwysing GGO/HAM.

Kontakpersone:
Cecile Perold : 021 851 8657

Macassar Jesusbende

Kinders wat met entoesiasme en oop harte die Goeie Nuus hoor, kinders wat baie liefde nodig het en volwassenes uit die gemeenskap wat gedring word om die liefde van Jesus met kinders te deel. Dit is Macassar Jesusbende!

Hierdie program het tot aan die einde van Maart 2020 daaruit bestaan dat ’n aantal volwassenes op Donderdagmiddae die evangelie aan kinders van Macassar gaan oordra. Vir die afgelope jare was ons bevoorreg om die fasiliteite van Laerskool Macassar hiervoor te gebruik. Die uitbreek van Covid-19 en die gevolglike verandering in funksionering van die skole, het hierdie manier van bediening tydelik tot stilstand gebring. Danksy die goeie verhouding met die skool en die Helderberg-gemeenskap kon ons wel tydens die inperking met kospakkies en geskrewe boodskappe na die gesinne van hierdie skool uitreik.

Met die verslapping van die inperkingsmaatreëls kon ons weer begin om die kinders in klein groepies te ontmoet. Ons is dankbaar dat die skool ons in staat stel om die kinders tans ín skooltyd te ontmoet. Dit is ook vir ons belangrik om die kinders ten minste een maal per jaar op ’n uitstappie te neem, sodat hulle die wyer omgewing kan leer ken en ook net lekker kan ontspan. Ons sal graag ook ons jaarlikse naweekkampe met hierdie kinders wil hervat. By hierdie kampe het ons die geleentheid om ongehinderd met kinders te gesels en hulle te help met hul unieke uitdagings. Macassar Jesusbende se groot uitdaging is om nuut te besin oor die manier waarop ons die liefde van Christus aan hierdie kinders én hulle families kan bedien. Ons sal ook graag meer wil doen om die kinders toe te rus om verantwoordelike burgers van ons land te wees. Die geld wat met geloofsgelofteoffers ontvang word, sal gebruik word vir lesmateriaal en vir die kampe wat ons graag vir hierdie kinders wil aanbied.

U kan ook deel word van hierdie bediening!

• Voorbidding vir die leiers van die klasse, vir meer leiers, vir die kinders, vir die ouers, vir Macassar Primêr Skool, wat hulle fasiliteite tot ons beskikking stel.

• Kom saam en kom kyk wat ons doen en waar ons dit doen.

• Oorweeg biddend of jy dalk moet / kan kom help met ’n klassie.

• Raak betrokke by die komitee wat die aktiwiteite van die Jesusbende bestuur

Vir meer inligting: Monene Wüst, 081 270 4311 monenewust@gmail.com

MHELP

MHELP het sy oorsprong in die konsistorie van die kerkgebou van die Calvyns Protestantse kerk in Macassar. In 2004 is dit omskep in ’n artikel-21 maatskappy. Baie gou het die konsistorie te klein geword, en het die Here mense geïnspireer om by te dra om ’n saal aangrensend aan die kerkgebou op te rig. Vandag word die saal én die kerkgebou gebruik as die sentrum van hierdie bediening. MHELP beywer hulle om die gevolge van wydverspreide werkloosheid en armoede in die gemeenskap van Macassar te verlig.

Terwyl daar voorsien word in dringende behoeftes soos kos en klere, word ook baie moeite gedoen dat mense hul menswaardigheid sal erken en vier. MHELP bring die Brood van die Lewe vir mense, maar maak net soveel erns met die opdrag “Gee julle vir hulle brood (iets) om te eet” (Luk 9:13).

MHELP spits hulle toe op twee kernprojekte:

• Daaglikse brood. MHELP beskik oor hulle eie bakkie, waarmee elke dag kos opgelaai word by besighede en kerke in die Helderbergkom. Die kos word dan in pakkies opgemaak, waarna dit geneem word na vyftien satelietstasies – waar mense letterlik hul daaglikse brood ontvang. Ongeveer 200 gesinne (ongeveer 5 persone per gesin) is ingeskakel by hierdie aksie.

Sopkombuis. Dinsdae bring ons die groepe bymekaar vir ‘n sopkombuis geleentheid waar voorsiening gemaak word vir geestelike en genotvolle programme, waarna almal met brood en sop bedien word, en ook ‘n kospakkie om saam te neem. Die kinders word afsonderlik in ’n ander lokaal in die gebou bedien en van kos voorsien. (Laasgenoemde projek het tydelik tot stilstand gekom tydens die inperkings a.g.v. Covid-19, maar ons vertrou dat dit weer sal kan hervat.)

Sammy en Sophia Louw het in 2000 hierdie projek begin en het hulle pensioen-geld gebruik om hierdie aksie te finansier. Ons gemeente het ’n paar jaar gelede besluit om ’n bydrae te lewer om hulle pensioen weer aan te vul. Die bedrag wat vir geloofsgelofte-offers ontvang word, word hiervoor gebruik.

Gemeentelede kan MHELP help:
• Voorbidding vir Sammy en Sophia Louw, wat hierdie aksie lei, en ook vir diegene wat hulle help.
• Kom kuier 11:30 op ’n Dinsdag by die sopkombuis.
• Skenk ‘wit olifante’ – vir hulle maandelikse verkoping.
• ’n Geloofsgelofte-offer.

 

Vir meer inligting: Philip Marais, 074 325 2729

Bright Lights

 

Bright Lights lewer twee tipes dienste:

’n Residensiële program waar seuns, wat deur ‘n hofbevel hier geplaas word, voltyds bly. Hierdie seuns is meestal op skool. Die wat nie op skool is nie, word na die invalsentrum gestuur vir klassies.

`n Invalsentrum by HEIDI (vorige ACVV sorgsentrum). Hier word seuns en dogters tussen 6 en 17 jaar op weeksdae versorg nadat hulle by hul huise opgetel is. Daar word omgesien na hul persoonlike higiëne en word voorsien van twee maaltye per dag, klere en basiese ontwikkelingsprogramme. Sommige van hulle word ook in skole geplaas maar die meerderheid het min of geen skoolopleiding.

Die gemeente is by Bright Lights betrokke deur die aanbieding van klassies in Bybel, Wiskunde, basiese Geletterdheid en Lewens- en rekenaarvaardighede. Die volgende word ook verskaf: toebroodjies, eenvormige T- hemde, reënbaadjies en sweetpakke. Elke jaar word ‘n Kerspartytjie en -geskenke vir hierdie kinders aangebied. Vanjaar is ook balonne en eetgoed vir ‘n Valentynspartytjie verskaf.

Ons is baie dankbaar dat bogenoemde betrokkenheid befonds kon word deur deuroffers en Geloofsgelofte-offers van gemeentelede. Laasgenoemde was verledejaar genoeg om ook twee nuwe wasmasjiene vir Bright Lights te kon koop. Baie dankie ook aan individue wat klere, vrugte, groente en etes aan die kinders geskenk het.

Vir meer inligting: Izelle Bester, 084 652 1693

Bejaardesorg

Iemand vertel dat sy bejaarde ouers op ’n plattelandse dorp, ver van hom af, woon. Hy bel hulle gereeld, maar wens dat hy nader was om self te sien hoe dit gaan en om hulle met praktiese takies te help. Langs sy ouers het egter ’n tyd gelede jongmense ingetrek en hulle ontferm hulle oor sy ouers soos hy dit graag sou wou doen. Elke oggend bel hulle om te hoor of alles reg is. Hulle help met inkopies en het ook gesorg dat die warmwatersilinder onlangs vervang kon word. Vir hom is dit so ’n groot gerusstelling.

Dit is presies wat ons hier in Somerset-Wes wil doen vir ander mense, wat ver hiervandaan woon of om ander redes nie in staat is om te help nie, se ouers. Die belangrikste deel van ons bediening aan bejaardes is om hulle te besoek en eerstehands te ervaar waar en hoe hulle gehelp kan word. Daaruit voortvloeiend wil ons dan ook daadwerklik praktiese hulp te verleen. Om hiermee te help, het ons gemeente ’n fonds (Blignaut fonds) gestig waaruit bejaarde persone – ongeag kerkverband – in noodgevalle gehelp kan word met lewensnoodsaaaklikhede. Die gemeente werk ook nou saam met die Helderberg Vereniging vir Bejaardes - wat vir baie bejaardes in Somerset-Wes huisvesting en versorging bied – om seker te maak wat die beste manier is om te help. Die geld wat met geloofsgelofte-offers ingesamel word, word in die Blignaut fonds vir barmhartigheid aan bejaardes inbetaal.

Hoe kan jy deel raak van die bediening om ’n kind te wees vir iemand anders se ouers?

• Voorbidding vir bejaardes, asook die personeel van aftree-oorde en versorgingsentrums.

• Raak deel van die span wat een of meer bejaardes besoek.

• Laat weet as jy bewus raak van ’n bejaarde wat besoek of enige vorm van hulp benodig

• Gee ’n geloofsgelofte-offer vir hierdie bediening

Kontakpersoon:
Hennie Fouché: 082 859 5646, hennie@nghottentotsholland.co.za

Geloofsgelofte-offers

Ons is geroep om getuies van Jesus te wees in Jerusalem, sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld (Hand 1:8). Ons deelname aan die uitreik-projekte waarby ons betrokke is, word nie befonds deur die dankoffers nie, maar wel deur geloofs-gelofte-offers.

’n Geloofsgelofte-offer is ’n bydrae wat ek gee bo en behalwe my gewone dankoffer. Terwyl my gewone dankoffer my bydrae is vir die instandhouding van die gemeente en die opbou van gelowiges, is my geloofsgelofte-offer geld wat ek beskikbaar stel, omdat ek oortuig is en geroep is om op ’n spesifieke plek deel te hê om God se lig in die wêreld te weerkaats.

Ons neem deel aan georganiseerde omgee- en uitreikprojekte omdat ons weet dat daar plekke in die wêreld is waar daar nie so baie gelowiges is nie, en waar ons nie normaalweg tydens ons normale lewe sou kom nie. Met ’n geloofs-gelofte-offer verbind ek my aan ’n projek en vertrou God sal my gebruik – ook op maniere wat ek nie kan voorsien nie – om sy lig daar te weerkaats.

Lees in ons nuutste brosjure, "Lig vir die Wêreld", op die webblad onder "Bronne", met watter projekte ons gemeente betrokke is.  Raak gerus self deel daarvan met jou gebede en jou geloofsgelofte-offer. Liefde buite die Familie se projekte vorm nie deel van die gemeente se begroting nie, en is hoofsaaklik afhanklik van geloofsgelofte-offers.

Jy kan op die volgende maniere finansieel bydra: 

  • Elektroniese oorbetaling. (ABSA; Tjekrekening – no: 2900 5900 51; Rekeninghouer: NG Kerk Hottentots-Holland; Verwysing: GGO + die projek se naam)
  • Jy kan die geld in Ö¹’n koevert sit en daarop skryf “Geloofsgelofte-offer”– plus die spesifieke projek se naam.
  • Een maal per maand plaas ons “Geloofsgelofte-offer koeverte” in die Familienuus. Hierdie koeverte dien as ’n herinnering daaraan dat jy teenoor die Here onderneem het om Ö¹’n bydrae te maak. Jy kan die koevert gebruik vir jou bydrae. Indien jy nie die koevert gebruik nie, kan jy dit gerus op die tafel in die voorportaal laat.

As jy onseker is vir watter projek jy die geloofsgelofte-offer wil gee, kan jy dit ook gee vir “waar nodig”. Die diensgroep vir “Liefde na Buite” sal dan toesien dat die geld verdeel word aan die projekte wat dit die nodigste het.

Geloofsgelofte-offers vervang nie my dank-offer nie. My dankoffer word juis gebruik vir die opbou, toerusting en ondersteuning van mede-dissipels.

Disakloof is ’n kampterrein in Bettiesbaai, tussen die berg en die see geleë. Hierdie terrein bied regtig die geleentheid om tot rus te kom en af te skakel van die lawaai en gejaag waarmee mense elke dag gekonfronteer word. Disakloof beskik oor akkommodasie in netjiese huisies, twee goed-toegeruste kombuise, twee sale, ruimte waar mense kan ontspan en vriendelike personeel wat die belange van die gebruikers van die kampterrein op hulle harte dra.

Hierdie kampterrein, wat tot vroeg in die 1990’s aan die Ring van Somerset-Wes behoort het - om ’n bekostigbare kampterrein vir ons kinders te bied – het tans ten doel om die Christengemeenskap van die Wes-Kaap te help om van jongmense toegeruste burgers van die land én van die Koninkryk van God te maak. Om in hierdie doel te slaag, wil Disakloof graag self kampe aanbied om leierskapsopleiding en geestelike toerusting aan jongmense te bied. Omdat daar in die Wes-Kaap baie jongmense is wat nie sulke geleenthede kan bekostig nie, wil Disakloof dit juis vir daardie leerlinge moontlik maak.Geld wat met die geloofsgelofte-offers ontvang word, sal uitsluitlik vir hierdie doel aangewend word.

Hoe kan jy deel raak van die bediening om jongmense te begelei tot toegeruste burgers van die land en van die Koninkryk van God?

• Voorbidding vir die bestuur en personeel van Disakloof Jeugkampterrein.

• As jy ’n passie het vir hierdie werk - raak self betrokke by die beplanning en aanbied van kampe.

• Maak ’n finansiële bydrae (gee ’n geloofsgelofte-offer) om sulke kampe vir so veel as moontlik jongmense moontlik te maak.

Vir meer besonderhede – kontak gerus vir Chris Lombard (083 408 3108), of lombard.c@mweb.co.za.