Bejaardesorg

Bejaardesorg

Iemand vertel dat sy bejaarde ouers op ’n plattelandse dorp, ver van hom af, woon. Hy bel hulle gereeld, maar wens dat hy nader was om self te sien hoe dit gaan en om hulle met praktiese takies te help. Langs sy ouers het egter ’n tyd gelede jongmense ingetrek en hulle ontferm hulle oor sy ouers soos hy dit graag sou wou doen. Elke oggend bel hulle om te hoor of alles reg is. Hulle help met inkopies en het ook gesorg dat die warmwatersilinder onlangs vervang kon word. Vir hom is dit so ’n groot gerusstelling.

Dit is presies wat ons hier in Somerset-Wes wil doen vir ander mense, wat ver hiervandaan woon of om ander redes nie in staat is om te help nie, se ouers. Die belangrikste deel van ons bediening aan bejaardes is om hulle te besoek en eerstehands te ervaar waar en hoe hulle gehelp kan word. Daaruit voortvloeiend wil ons dan ook daadwerklik praktiese hulp te verleen. Om hiermee te help, het ons gemeente ’n fonds (Blignaut fonds) gestig waaruit bejaarde persone – ongeag kerkverband – in noodgevalle gehelp kan word met lewensnoodsaaaklikhede. Die gemeente werk ook nou saam met die Helderberg Vereniging vir Bejaardes - wat vir baie bejaardes in Somerset-Wes huisvesting en versorging bied – om seker te maak wat die beste manier is om te help. Die geld wat met geloofsgelofte-offers ingesamel word, word in die Blignaut fonds vir barmhartigheid aan bejaardes inbetaal.

Hoe kan jy deel raak van die bediening om ’n kind te wees vir iemand anders se ouers?

• Voorbidding vir bejaardes, asook die personeel van aftree-oorde en versorgingsentrums.

• Raak deel van die span wat een of meer bejaardes besoek.

• Laat weet as jy bewus raak van ’n bejaarde wat besoek of enige vorm van hulp benodig

• Gee ’n geloofsgelofte-offer vir hierdie bediening

Kontakpersoon:
Hennie Fouché: 082 859 5646, hennie@nghottentotsholland.co.za