Diensverhoudinge

Diensverhoudinge

Die gemeente, as werkgewer van alle werknemers in diens van die kerk, is onderhewig aan die wetgewing oor byvoorbeeld arbeidsverhoudinge, basiese diensvoorwaardes, gelyke indiensneming en ander verwante wetgewing.

Die Algemene sinode het in sy Kerkorde voorsiening gemaak vir strukture in gemeentes om arbeidsverhoudinge te bestuur. Die Diensverhoudinge Kommissie sien namens die gemeente om na alle sake wat die personeel van die Hottentots Holland gemeente raak, en sien toe dat billike arbeidspraktyke gehandhaaf word. Die Diensverhoudinge Kommissie funksioneer dus as ‘n ondersteuningsarm vir die kerkraad- wat ‘n direkte bestuursverantwoordelikheid het.

Die oorhoofse doel van die Diensverhoudinge Kommissie is om deur doeltreffende bestuur ‘n ruimte te skep waarbinne personeellede geborge voel en hul volle potensiaal kan verwesenlik. Die Diensverhoudinge Kommissie dien as kommunikasiekanaal tussen die Kerkraad en personeel, en tree namens die Kerkraad op in onderhandeling met personeel (vergoeding, diensooreenkomste ens) insluitende die dag-tot-dag toesig en versorging van die personeel. Die Diensverhoudinge Kommissie adviseer ook die kerkraad van toepaslike arbeidswetgewing, bepalings van die Kerkorde en algemene personeelbestuurspraktyke.

Funksies en take sluit onder andere in:

  • Personeel voorsiening
  • Vergoeding (en begroting vir salarisse)
  • Administrasie
  • Beleid
  • Opleiding en Ontwikkeling
  • Ondersteuning
  • Dissiplinêre en griewe aangeleenthede
  • Doeltreffende bestuursprosesse
  • Menslike hulpbron strategie

Samestelling en funksionering in Hottentots Holland gemeente:

Die DVK van ons gemeente bestaan tans uit die twee predikante en drie gemeentelede. Daar word nie ‘n bepaalde termyn aan vrywilligers se diens gekoppel nie. ‘n Voorsitter word deur die lede van die kommissie gekies en die kommissie vergader ten minste een maal per kwartaal (of soos nodig sou daar dringende sake wees). Besluite en aanbevelings word deurgaans aan die kerkraad voorgelê vir goedkeuring voor implementering.

Indien u navrae of insette het vir die DVK, kontak gerus deur die kerkkantoor te skakel of deur e-pos aan admin@nghottentotsholland.co.za