Mhelp

MHELP

MHELP het sy oorsprong in die konsistorie van die kerkgebou van die Calvyns Protestantse kerk in Macassar. In 2004 is dit omskep in ’n artikel-21 maatskappy. Baie gou het die konsistorie te klein geword, en het die Here mense geïnspireer om by te dra om ’n saal aangrensend aan die kerkgebou op te rig. Vandag word die saal én die kerkgebou gebruik as die sentrum van hierdie bediening. MHELP beywer hulle om die gevolge van wydverspreide werkloosheid en armoede in die gemeenskap van Macassar te verlig.

Terwyl daar voorsien word in dringende behoeftes soos kos en klere, word ook baie moeite gedoen dat mense hul menswaardigheid sal erken en vier. MHELP bring die Brood van die Lewe vir mense, maar maak net soveel erns met die opdrag “Gee julle vir hulle brood (iets) om te eet” (Luk 9:13).

MHELP spits hulle toe op twee kernprojekte:

• Daaglikse brood. MHELP beskik oor hulle eie bakkie, waarmee elke dag kos opgelaai word by besighede en kerke in die Helderbergkom. Die kos word dan in pakkies opgemaak, waarna dit geneem word na vyftien satelietstasies – waar mense letterlik hul daaglikse brood ontvang. Ongeveer 200 gesinne (ongeveer 5 persone per gesin) is ingeskakel by hierdie aksie.

Sopkombuis. Dinsdae bring ons die groepe bymekaar vir ‘n sopkombuis geleentheid waar voorsiening gemaak word vir geestelike en genotvolle programme, waarna almal met brood en sop bedien word, en ook ‘n kospakkie om saam te neem. Die kinders word afsonderlik in ’n ander lokaal in die gebou bedien en van kos voorsien. (Laasgenoemde projek het tydelik tot stilstand gekom tydens die inperkings a.g.v. Covid-19, maar ons vertrou dat dit weer sal kan hervat.)

Sammy en Sophia Louw het in 2000 hierdie projek begin en het hulle pensioen-geld gebruik om hierdie aksie te finansier. Ons gemeente het ’n paar jaar gelede besluit om ’n bydrae te lewer om hulle pensioen weer aan te vul. Die bedrag wat vir geloofsgelofte-offers ontvang word, word hiervoor gebruik.

Gemeentelede kan MHELP help:
• Voorbidding vir Sammy en Sophia Louw, wat hierdie aksie lei, en ook vir diegene wat hulle help.
• Kom kuier 11:30 op ’n Dinsdag by die sopkombuis.
• Skenk ‘wit olifante’ – vir hulle maandelikse verkoping.
• ’n Geloofsgelofte-offer.

 

Vir meer inligting: Philip Marais, 074 325 2729