Macassar jesusbende

Macassar Jesusbende

Kinders wat met entoesiasme en oop harte die Goeie Nuus hoor, kinders wat baie liefde nodig het en volwassenes uit die gemeenskap wat gedring word om die liefde van Jesus met kinders te deel. Dit is Macassar Jesusbende!

Hierdie program het tot aan die einde van Maart 2020 daaruit bestaan dat ’n aantal volwassenes op Donderdagmiddae die evangelie aan kinders van Macassar gaan oordra. Vir die afgelope jare was ons bevoorreg om die fasiliteite van Laerskool Macassar hiervoor te gebruik. Die uitbreek van Covid-19 en die gevolglike verandering in funksionering van die skole, het hierdie manier van bediening tydelik tot stilstand gebring. Danksy die goeie verhouding met die skool en die Helderberg-gemeenskap kon ons wel tydens die inperking met kospakkies en geskrewe boodskappe na die gesinne van hierdie skool uitreik.

Met die verslapping van die inperkingsmaatreëls kon ons weer begin om die kinders in klein groepies te ontmoet. Ons is dankbaar dat die skool ons in staat stel om die kinders tans ín skooltyd te ontmoet. Dit is ook vir ons belangrik om die kinders ten minste een maal per jaar op ’n uitstappie te neem, sodat hulle die wyer omgewing kan leer ken en ook net lekker kan ontspan. Ons sal graag ook ons jaarlikse naweekkampe met hierdie kinders wil hervat. By hierdie kampe het ons die geleentheid om ongehinderd met kinders te gesels en hulle te help met hul unieke uitdagings. Macassar Jesusbende se groot uitdaging is om nuut te besin oor die manier waarop ons die liefde van Christus aan hierdie kinders én hulle families kan bedien. Ons sal ook graag meer wil doen om die kinders toe te rus om verantwoordelike burgers van ons land te wees. Die geld wat met geloofsgelofteoffers ontvang word, sal gebruik word vir lesmateriaal en vir die kampe wat ons graag vir hierdie kinders wil aanbied.

U kan ook deel word van hierdie bediening!

• Voorbidding vir die leiers van die klasse, vir meer leiers, vir die kinders, vir die ouers, vir Macassar Primêr Skool, wat hulle fasiliteite tot ons beskikking stel.

• Kom saam en kom kyk wat ons doen en waar ons dit doen.

• Oorweeg biddend of jy dalk moet / kan kom help met ’n klassie.

• Raak betrokke by die komitee wat die aktiwiteite van die Jesusbende bestuur

Vir meer inligting: Monene Wüst, 081 270 4311 monenewust@gmail.com