Blog

Laat hom maar nog staan ...

Dit was ’n heerlike Winter-Sondagoggend. Nadat ons die erediens bygewoon het, is ons kil begroet deur ’n yskoue huis. Die son wat buite saggies geskyn, het dit nie genoeg inkomplek gevind om ons huis warm te maak nie. Dit was asof die mure ons vasdruk en vir ons tong uitsteek en al koggelende ons daaraan herinner dat die president later daardie dag met die volk gaan praat en dat hy beslis strenger inperkingsmaatreëls gaan aankondig.

Ons wou en moes net daar uitkom, en het sommer net begin ry. In die motor het ons, soos dassies, lekker warm gebak. Langs die pad het ons opgewonde by ’n padstal stilgehou om koffie en tee in weggooibare koppies te koop. Terwyl ek met die twee koppies terugstap motor toe, is ek in my spore gestuit toe ek sien daar is ook ’n stalletjie waar ’n paar vetplante verkoop word. Daar was geen ander mense nie en ek het dit geniet om rustig al die plante te bewonder. Een spesifieke plant het sy hand opgesteek dat ek dit moet koop, en uiteindelik het ek voor die versoeking geswig. By die betaalpunt het ek met ’n skok besef dat ek die prys verkeerd gelees het, en dat die komma eintlik een plek meer na regs geskryf is as wat ek gedink het. Dit was egter te laat en ek was té verleë om iets te sê en het maar voortgegaan met die transaksie, al was dit toe tien maal duurder as wat ek gedink het.

Ek het presies geweet waar hierdie nuweling ’n groeiplek moet kry en het dit die volgende oggend vroeg daar gaan plant. Hierdie ekstra duur plant wou egter net nie groei nie. Elke keer as ek gaan kyk, het dit gelyk of daar nog minder blaartjies aan die plant is. Totdat uiteindelik net die die kaal stok daar gestaan het. En elke week het dit méér dood gelyk. ‘n Paar dae gelede het ek besef die tyd het aangebreek om die onvermydelike te aanvaar. Die uitgedorde stok kan nie langer hier staan net omdat ek so baie geld daarvoor betaal het nie. Ek sal maar net móét begin soek na iets anders om hier te plant. 

En sowaar – daar laat hierdie skynbaar dooie stok my vir ’n tweede keer na my asem snak. Twee dae nadat ek uiteindelik begin vrede maak het dat hierdie duur gekoopte plant uitgeruk moet word, stap ek vroeg die oggend in die tuin en sien iets wat ek gedink het onmoontlik is. Kan dit regtig waar wees? Droom ek nie dalk nie? Hier staan die plant, wat 48 uur gelede ’n morsdood stok was, in ’n heldergroen blaredos geklee.

Om te dink ek wou dit uitruk en weggooi?

Terwyl ek vir almal wat wil hoor en nie wil hoor nie vertel van hierdie plant, en hoe dankbaar ek is dat dit groei, en dat die te veel geld darem nou die moeite werd voel, spoel daar meteens ’n dankbaarheid oor my dat ons Here my nie weggooi as ek meermale so sonder vrug en sonder groeikrag is nie. Terwyl ek elke nou en dan na hierdie wonderwerk-plant gaan kyk om net seker te maak dat dit régtig waar is dat dit begin groei het, sien ek opnuut in dat die Here nie net die doodsheid in ons raaksien nie, maar wel die groeikrag wat binne ons is. Ook as ek Hom teleurstel, sien Hy raak nie wat ek op daardie stadium is nie, maar wel wat ek bedoel is om te wees, en wat ek kán wees.

Dis asof ek Hom hoor sê “Laat hom nog hierdie jaar staan.  Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra” (vgl Luk 13:7-9).  Ek is nou oortuig daarvan dat Jesus ook elke nou en dan met verwagting na my kom kyk, omdat Hy in my, wat eens dood was, die nuwe lewe sien groei.

Ek is so bly ek het nie die plant uitgeruk en weggegooi nie. En nog meer dankbaar dat ék kon bly staan, ten spyte van die doodsheid meermale in my. Hierdie duurgekoopte plant wat vir ’n lang tyd vir my soos ’n dooie stok gelyk het, maar nou in ’n bladedos geklee is, pleit by my om nie so vinnig en maklik mense wat anders is en anders dink en anders lyk as ons te wil uitruk en weggooi nie.

Net soos ek is hulle duur gekoop. Met die toediening van genadige liefde kan die mooiste in mense sigbaar word.

 

Lewer kommentaar

 

Kommentaar