Liefde na Bo

Ons is geroep om lief te hê soos Jesus liefhet. "Werklike liefde is dit: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes" (1 Joh 4:10). Daarom kyk ons heel eerste op na God, wat ons eerste liefgehad het.
Ons doen dit by ons eredienste - die geleentheid waar ons as familie byeenkom om God te eer. Vanuit ons eredienste gaan ons die week tegemoet om oral waar ons ons bevind te gaan lééf wat ons in die erediens ervaar het.
Ons kyk op wanneer ons bid. Tot Hom bid ons om te ontdek en te onderskei wat Sy wil is.
Ons kyk op na God deur elkeen op sy eie, as familie en ook in groter groepe die Bybel te lees en met mekaar en met God daaroor in gesprek te tree. Ons glo die Bybel is die lig op ons pad en die lamp voor ons voet.

 

Liefde na binne

Ons is ’n familie wat mekaar wil liefhê soos Jesus ons liefhet. Ons wil graag hê dat almal binne ons gemeente-familie sal tuis voel. Ons is nie eenders nie, maar ons is wel één (familie). Ons wil graag gelyke sorg dra vir mense van alle ouderdomme, van elke geslag en binne elke familie, ongeag die samestelling daarvan. Dit is vir ons belangrik dat elke gemeentelid verantwoordelikheid sal neem vir die ander. Daarom help ons mekaar om ons gawes te ontdek en gebruik ons die ”mekaar tekste” in die Bybel as ons padkaart om aan te toon hoe ons Jesus se liefde aan mekaar moet bedien.

 

Liefde na buite

Die Heilige Gees gee ons krag om dissipels te wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld (Hand 1:8). Ons is geroep om elkeeen ’n dissipel van Jesus te wees daar waar ons ons bevind. Daar is egter ook plekke waar minder gelowiges is en waar ons as dissipels nie noodwendig in die normale gang van ons lewe kom nie. Ons wil ook gehoorsaam wees deur daar getuies en verteenwoordigers van God te wees.

Uitgangspunte:

  • Dat die gemeente / kerk die enigste instansie is wat bestaan ter wille van hulle wat nie lede is nie.
  • Dat die diensgroep nie die getuienis-arm van die kerk nie, maar dat ons ‘n gestuurde gemeente is.
  • Die diensgroep bestuur en organiseer projekte waarvan die gemeente / kerkraad oortuig is dat dit die plekke is waar die Here reeds besig is en waar Hy ons wil gebruik.

Ondersteunende Liefde

Dis ons gemeente se uitgangspunt om elke lidmaat in staat te stel om haar / sy gawes uit te leef en sodoende as dissipels (individueel, óf as deel van ’n spesifieke aksie) ’n Jesus-verskil in die gemeenskap te maak. Danksy ’n baie goeie infrastruktuur (ondersteunende liefde) is ons in staat om elke gemeentelid te help in die uitleef van hierdie roeping.
Hierdie infrastruktuur word deur die volgende diensgroepe bestuur:
Diensgroep vir Diensverhoudinge is verantwoordelik vir die voorsiening en die versorging van die personeel, sodat elkeen haar/sy taak onder die bes moontlike omstandighede kan uitvoer.
Diensgroep vir Eiendomme is verantwoordelik vir al die toerusting en fasiliteite waaroor ons beskik.
Diensgroep vir Fondse bestuur die begroting van die gemeente.
Diensgroep vir Kommunikasie sien toe dat elke diensgroep en aksie op die bes moontlike manier met die gemeentelede kommunikeer.

Raak betrokke

Een van die beelde waarmee die kerk (gemeente) vergelyk word, is dié van ’n liggaam. Elke lid van die gemeente (dissipel) is een van die ledemate van hierdie liggaam. “Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ’n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde” (Ef 4:16). Ons gemeente wil graag vir elke lidmaat die geleentheid gee om sy/haar gawes in hierdie gemeente uit te leef. Kyk gerus watter geleenthede die gemeente bied en dui dan opdie diensbaarheidsvraelysaan waar jy betrokke wil raak. As jy egter jou lewensroeping op ‘n ander manier wil uitleef, moet jy asseblief ook vir ons laat weet, sodat ons jou hande ook daarin kan sterk. Ons sien uit om van jou te hoor en sal so gou moontlik nadat ons van jou gehoor het met jou in verbinding tree.

lees meer >